DIE spanning wat innerlike vrede en uiterlike skoonheid vernietig

Ek was bevoorreg om deel te kon wees van Finesse se bootreis, net vir die “girls”.  Waar jy kyk, was laggende vrouens, vriendinne, susters, ma’s en dogters.  

Almal het die geleentheid gekry om van die chaos en allerdaagse uitdagings van ma en vrou wees,  te ontsnap.   Saterdagmiddag het ek myself alleentyd gegun,  van die vrolikheid ontsnap en op die dek gaan sit. 

Ek het oor die oseaan gestaar.  In die verte, pak die wolke bymekaar, en het ek die ontstuimigheid in my binneste gevoel, asof die oseaan se ontelbare trane gereed is om voor my voete te val.  Dit is ‘n storm wat skreeu onder donker en ernstige wolke.    Dit is die perfekte storm wat woed in soveel van daai vrouens op die boot se harte.   

Daai allerdaagse spanning en skaamte wat jou innerlike vrede vernietig en jou uiterlike skoonheid laat wegkwyn. ‘n Groot ding wat ‘n vrou se innerlike vrede kan vernietig, is skaamte en spanning, of eerder die effek wat skaamte op ‘n vrou se gees aan die innerlike doen, wat uitstraal na die uiterlike.  Wanneer jy in ‘n winkel instap,  spesfiek die kosmetiese gang, sien jy advertensies met die opskrifte van

•             ”Droom jou drome” 

•             “Onfeilbare/onverganklike skoonheid” 

•             “Glimlag vir ‘n leeftyd” 

•             “Naakte skoonheid” 

•             “Foutlose afwerking” 

Hoekom stoei ons altyd om goed te lyk aan die buitekant, maar wat gaan in jou hart aan? 

Sien. Die wereld wil jou laat glo dat mense jou nie sien vir wie en wat jy is nie? Skaamte is ‘n wond wat gekwes het in die tuin van Eden.  Die oomblik toe Eva daardie vrug geneem en geëet het,  het skaamte ingetree.  Wanneer iets in jou lewe verkeerd gaan,  tree skaamte in en plaas jou buite die tuin. (verhouding met ons hemelse Vader). 

Volgens die woordeboek, is skaamte ‘n pynvolle gevoel van vernedering  veroorsaak deur bewuswording van ‘n verkeerde of dwase gedrag en dan te glo dat dit wat binne in jou geplant is, nie goed genoeg is nie.  

Ons soek altyd ons identiteit in die uiterlike en glo dit gee vir ons waarde.  Die wêreld skep verwagtinge wat vir ons moeilik is om onsself te beskerm.  Ons moet onsself konstant herinner, woorde dra krag en kan ons vrygemaak word van skaamte en spanning na ‘n diep onskatbare sin van waarde en skoonheid. Hierdie woorde verskil nie veel van die in die kosmetiese gange  nie, maar besit die sleutel van ‘n totale ander betekenis. 

  • LEEF jou drome.  Nie die drome in ‘n winkel nie,  maar die droom wat in jou kern geanker is.  Leef daai drome met integriteit en hoop. 
  • Skoonheid is feilbaar en verganklik.  Fokus op ‘n onfeilbare gees. 
  • Al het jy die mooiste mond en tande, sonder lewensvreugde wat jou oë uitstraal, is jou glimlag dood en sal nie ‘n leeftyd hou nie. 
  • Die wêreld soek jou naak.  Haal jou oogklappe af. Kyk wat aangaan.  Wees kwesbaar, maar beskerm jou hart teen ‘n harde en gewetenlose wereld.  Onderskei wie jy is, leef vreesloos en volhard. 
  • Foutloos wees is ‘n mensgemaakte illusie, 'n verwagting oor hoe jy  moet wees en optree. 

Foutloosheid en perfeksie bestaan nie.  Wees uitstaande en wees ‘n beter weergawe van gister.  

Jy word ouer.  

Jy kry plooie,  jy ontwikkel afgesakte wangetjies en dunner lippies.  

Jeug vergaan, maar deug bly staan.  Jou siel is tydloos en onthou om te speel en te lag, ‘n leeftyd wat vir jou gegun is, ten volle te gebruik.  Bewaar jouself teen ‘n verouderde gees met genade en wysheid. Jy.  Liewe vrou.  Is vreesloos en wonderbaarlik in die moederskoot geweef.  Moenie toelaat dat spanning jou innerlike vrede verwoes wat jou uiterlike skoonheid  vernietig nie.