‘n Geselsie met jouself, bepaal die maatstaf oor hoe jy oor jouself en jou liggaam voel.

“Wie is ek?  Wat is my ware identiteit?  Het jy geweet dat al jou identiteite, wie en wat jy glo jy is, gebasseer is op iemand anders se opinie oor jou. 

Sy was 10 jaar oud.  Sproetgesiggie, twee vlegsels aan die kant van haar kop met pienk strikkies. Die mooiste blou ogies.   Al die graad 4 dogtertjies was verplig om deel te neem aan Mejuffrou lentedag by die skool.

Mamma het vir haar die mooiste pienk rokkie gekoop met ‘n silver kroon vol diamante vir die okkasie.  Die rokkie was vol frilletjies, valletjies en pof moutjies.  Baie opgewonde het sy die rokkie aangepas, en vir haarself in die spieël gekyk.  Sy was beeldskoon.  ‘n Regte prinses.  Sy het glimlaggend “dis heerlike lente” begin sing, en al in die rondte gedraai.   Met oortuiging in haar hart, die kroon op haar kop, weet sy dat sy die kroon gaan dra as Mejuffrou lentedag. 

Die volgende oggend,  baie opgewonde, haartjies gekrul, kroon op die kop, lippies effens pienk,  gereed vir haar deelname aan Mej Lentedag, stap sy haar maaitjies tegemoet wat lyk soos modelle uit ‘n mode tydskrif. 

Skielik het sy gevoel hoe die skaamte haar insluk oor hoe sy lyk.   Sy het gevoel soos die barbie pop met die pof rok vol versiersuiker wat ouma gebruik het vir haar verjaarsdagkoek toe sy 5 jaar oud geword het. 

Op die ouderdom van tien, het sy in die lewe se bokskryt beland en die wêreld se grootste kampioen in die gesig gestaar naamlik -  minderwaardigheid.  Want sien.  Die oomblik toe sy op daardie loopplank stap, het die prinses van die vorige aand, verander in aspoestertjie.  Die hele skool het haar ge”boohooo”.  Op daardie oomblik van haar lewe, het die outoriteit van die teenstaander al haar kragte oorwin en haar op die vloer van die lewe vasgepen en elke bietjie identiteit wat sy het, het inmekaar getuimel.  Sedertdien het sy die styd gevoer van “Ek is nie mooi  genoeg nie, ek is die lelike dom sproetgesig dogtertjie wat net nie goed genoeg is nie.” 

Die Woord sê dat God is Liefde.  Ons is geskape na Sy beeld.  Die teenoorgestelde daarvan is ‘n “liefdelose gees – wat die gees van satan is. Het jy geweet dat dit is na wie jy luister wanneer ons in ooreenkoms kom met ‘n lae selfbeeld en self haat. Vader sê in die woord dat HY ons leer, ons moet net by Sy voete gaan sit, en Sy woord leer ken.  

Vergifnis en vryspraak 

Vir die 10 jarige dogtertjie om vry te kom van die tronk waarin sy toegesluit was as jong meisie, tiener, volwasse jongvrou, selfs as senior dame, moet sy vergewe en vergeet.  Fillipense 3 :14 sê: “… ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is.”   

Bewaar jou hart en kies die lewe Spreuke 4:23 sê “Wees versigtig wat in jou hart aangaan.  Wat jy dink, bepaal ALLES wat jy doen.” En dan sê Vader vir ons in Deut 30:19 “Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood.” Wanneer jy heeltyd slegte en negatiewe gedagtes gaan vertroetel, gaan jy die dood kies, en ontneem jy jouself om vry te lewe.   

Laat God jou denke vernuwe Die slimkoppe reken dat die brein tussen 60 000 en 80 000 gedagtes per dag dink. Romeine 12:2 …” maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”  Dit is ‘n konstante gebedsaak om jou gedagtes te vernuwe. Op die ouderdom van tien, het sy in die lewe se bokskryt beland en die kampioen naamlik minderwaardigheid aangedurf.  Maar JY kan kies of jy wil bly lê en ‘n aspoestertjie wees vir die res van jou lewe, en of jy kan opstaan, jou KROON optel en uitstap as die prinses wat ons Vader jou geskep het om te wees.